Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Elizabeth II
Koningin van die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en die ander Statebondsryke
Koningin Elizabeth II in 2007.
Koningin Elizabeth II in 2007.
Vorstehuis Windsor
Titels HM die Koningin
HKH prinses Elizabeth, die Hertogin van Edinburg
HKH prinses Elizabeth
HKH prinses Elizabeth van York
Regeer 6 Februarie 1952 – huidig
Kroning 2 Junie 1953
Voorganger George VI
Vermoedelike opvolger Charles, die Prins van Wallis
Volle naam Elizabeth Alexandra Mary
Gebore 21 April 1926; Mayfair, Londen
Oorlede
Eggenoot Prins Philip
Kinders Charles
Anne
Andrew
Edward
Vader George VI
Moeder Elizabeth Bowes-Lyon

Elizabeth II (Elizabeth Alexandra Mary; gebore 21 April 1926) is die koningin van 16 onafhanklike state en hul oorsese gebiede. Hoewel sy oor elkeen van hierdie lande apart en gelyk regeer en pligte in en namens al die lande uitvoer, woon sy in die Verenigde Koninkryk en is sy hoofsaaklik betrokke by sake van dié land. Sy het in Februarie 1952 die monarg van sewe lande geword met die dood van haar pa, George VI.

Benewens die Verenigde Koninkryk is Elizabeth ook die monarg van Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Jamaika, Barbados, die Bahamas, Grenada, Papoea-Nieu-Guinee, die Solomoneilande, Tuvalu, Sint Lucia, Sint Vincent en die Grenadines, Belize, Antigua en Barbuda en Sint Kitts en Nevis – sy word in elkeen van die lande verteenwoordig deur ’n goewerneur-generaal. Die 16 lande waarvan sy koningin is, staan informeel en nieamptelik bekend as Statebondsryke; hul gesamentlike bevolking is meer as 140 miljoen en Elizabeth is een van net ’n paar monarge wat oor dele van elke vasteland regeer. In teorie het sy ontsaglike mag, maar in die praktyk meng sy selde in politieke sake in.

Elizabeth II het ook verskeie ander ampte, onder andere hoof van die Statebond, opper-goewerneur van die Kerk van Engeland, die hertog van Normandië en lord van Mann. Daar was omvattende veranderings in die lande waaroor sy regeer en in die wêreld in die algemeen tydens haar lang bewind. Een van die belangrikstes is die ontbinding van die Britse Ryk, (’n proses wat in die laaste jare van haar pa se bewind begin het) en die daaropvolgende ontwikkeling van die Statebond.

Elizabeth is sedert 1947 met prins Philip getroud. Die egpaar het vier kinders en agt kleinkinders.

Konteks[wysig | wysig bron]

Die koninkryke, gebiede en protektorate van Elizabeth II sedert 1952 ██ Huidige koninkryke ██ Voormalige koninkryke ██ Huidige afhanklike gebiede[1] ██ Voormalige kolonies, afhanklike gebiede en protektorate

Elizabeth het op 6 Februarie 1952 met die dood van haar pa, George VI, koningin geword van die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Pakistan en Ceylon (nou Sri Lanka). Namate ander kolonies van die Britse Ryk tydens haar bewind onafhanklik van die VK geword het, het sy koningin van die nuwe lande geword – sy was in die meer as ses dekades op die troon die monarg van 32 individuele lande, waarvan die helfte eindelik 'n republiek geword het. Sy is die enigste monarg van meer as een onafhanklike staat.

Sy het in 2012 haar diamantjubileum gevier ná 60 jaar op die troon. Sy en prins Philip het ’n uitgebreide toer deur die Verenigde Koninkryk onderneem, terwyl haar kinders en kleinkinders namens haar op koninklike toere deur die Statebondslande gegaan het.[2][3]

Sedert Februarie 2003 regeer die koningin langer as die vier voorafgaande monarge gesamentlik (Edward VII, George V, Edward VIII en George VI). Sy het in 2007 die oudste lewende Britse monarg geword. Teen laatmiddag op 9 September 2015 het sy die langsregerende Britse monarg geword – langer as die vorige rekordhouer, Victoria (wat 63 jaar regeer het).[4] George III het 59 jaar regeer en James VI het 57 jaar oor Skotland regeer.

Sy is die wêreld se oudste regerende monarg en tweede langsregerende staatshoof wat tans regeer (naas koning Bhumibol Adulyadej van Thailand). Om koning Lodewyk XIV van Frankryk te oortref as die langsregerende monarg in die geskiedenis van Europa, moet sy tot op 26 Mei 2024 lewe wanneer sy 98 sal wees.

Sy beplan nie om te abdikeer nie,[5] hoewel ’n ál groter deel van haar amptelike pligte deur prins Charles oorgeneem word namate Elizabeth, wat in 2016 reeds 90 word, haar pligte afskaal.[6]

Vroeë lewe[wysig | wysig bron]

Prinses Elizabeth in 1929 op driejarige ouderdom.

Elizabeth is in Mayfair, Londen, gebore as die oudste kind van prins Albert, die Hertog van York en Elizabeth, die Hertogin van York.

Sy het net een jonger suster, prinses Margaret, gehad wat in 1930 gebore is. Die twee prinsesse is tuis opgevoed onder toesig van hul ma en hul goewernante, Marion Crawford, wat algemeen bekend was as Crawfie.[7] Crawford het later ’n boek gepubliseer oor die kinderdae van die twee prinsesse, The Little Princesses. In die boek word Elizabeth se liefde vir perde en honde beskryf, asook haar ordelikheid en verantwoordelikheidsin.[8]

Met haar geboorte was Elizabeth die derde aanspraakmaker op die Britse troon – ná haar oom, prins Edward, die Prins van Wallis en haar pa. Daar was geen rede om te glo sy sou ooit die troon bestyg nie aangesien algemeen aanvaar is dat die Prins van Wallis sou trou en kinders hê.[9]

In 1936 is haar oupa George V dood en Edward het hom opgevolg. Later daardie jaar het Edward geabdikeer en het Elizabeth se pa koning geword. Sy het toe die vermoedelike troonopvolger geword.

Huwelik[wysig | wysig bron]

Prins Philip in 2007.

Elizabeth het op 20 November 1947 met prins Philip getrou. Hulle is agterkleinneef-en –niggie deur koningin Victoria en ook deur koning Christian IX van Denemarke. Prins Philip het voor die troue afstand gedoen van sy Griekse en Deense titels en lt. Philip Mountbatten geword (hy het die van sy ma se familie aangeneem). Hy het net voor die troue die titel Hertog van Edinburg en die aanspreekvorm Sy Koninklike Hoogheid gekry.

Op 14 November 1948 is die egpaar se oudste kind, prins Charles, gebore. ’n Tweede kind, prinses Anne, is in 1950 gebore.

Koningin[wysig | wysig bron]

Kroning van Elizabeth II op 2 Junie 1953 in Westminster-abdy.

George VI se gesondheid het in 1951 agteruitgegaan en Elizabeth het dikwels sy plek vol gestaan op openbare geleenthede. In Oktober daardie jaar het sy na Kanada gereis en ook die president van die VSA, Harry S. Truman, besoek. Vroeg in 1952 het Elizabeth en Philip op ’n besoek na Australië en Nieu-Seeland vertrek via Kenia. By Sagana Lodge, sowat 160 km noord van Nairobi, het prins Philip die nuus aan haar oorgedra dat haar pa op 6 Februarie dood is.[10] Die egpaar het dadelik na Brittanje teruggekeer, waar hulle in Buckingham-paleis ingetrek het. Nes baie van haar voorgangers hou Elizabeth glo nie van die paleis nie en verkies sy Windsor-kasteel as haar tuiste.[11]

Ondanks die dood van haar ouma koningin Mary op 24 Maart 1953 het reëlings vir die nuwe koningin se kroning op 2 Junie 1953 in Westminster-abdy voortgegaan, soos wat koningin Mary wou gehad het. Feitlik die hele seremonie is regdeur die Statebond op televisie vertoon en is deur sowat 20 miljoen mense gesien.[12]

Elizabeth se swangerskappe met prinse Andrew en Edward, in 1959 en 1963, was die enigste kere dat sy nie die parlement geopen het nie.

Jubileums en herdenkings[wysig | wysig bron]

’n Standbeeld van koningin Elizabeth II in Ottawa wat opgerig is om haar silwer jubileum te gedenk.

In 1977 het Elizabeth haar silwerjubileum gevier en in 2002 haar goue jubileum.[13]

Sy en prins Philip het hul 60ste huweliksherdenking vyf jaar later gevier met ’n diens in die Westminster-abdy, ’n ete by prins Charles in Clarence House en ’n dinee met ander lede van die koninklike familie en verskeie ander hooggeplaastes.

Sy het in 2012 haar diamantjubileum gevier ná 60 jaar op die troon.

Titels en aanspreekvorms[wysig | wysig bron]

Elizabeth het in haar lewe al verskeie titels gehad – as die kleindogter van ’n koning, die dogter van ’n koning, deur haar man se titels en eindelik as die monarg van verskeie lande. In die algemeen word na haar verwys as "Die Koningin", "Haar Majesteit", of as dit nodig is, "Haar Britanniese Majesteit", "Haar Australiese Majesteit", "Haar Kanadese Majesteit", "Haar Nieu-Seelandse Majesteit", ens. In ’n gesprek met die koningin word sy die eerste keer as "U Majesteit" aangespreek en daarna as "Ma'am".

Stamboom[wysig | wysig bron]

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha
 
 
 
 
 
 
 
Edward VII van die Verenigde Koninkryk
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Victoria van die Verenigde Koninkryk
 
 
 
 
 
 
 
George V van die Verenigde Koninkryk
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Christiaan IX van Denemarke
 
 
 
 
 
 
 
Prinses Alexandra van Denemarke
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Louise van Hesse-Kassel
 
 
 
 
 
 
 
George VI
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 Elizabeth II 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Elizabeth die koningin-moeder
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 


Kinders[wysig | wysig bron]

Naam Gebore Getroud Kinders Geskei
Prins Charles, die Prins van Wallis 14 November 1948 29 Julie 1981 Lady Diana Spencer Prins William van Wallis
Prins Henry van Wallis
28 Augustus 1996
9 April 2005 Camilla Parker-Bowles
Prinses Anne 15 Augustus 1950 14 November 1973 Mark Phillips Peter Phillips
Zara Phillips
28 April 1992
12 Desember 1992 Timothy Laurence
Prins Andrew, die Hertog van York 19 Februarie 1960 23 Julie 1986 Sarah Ferguson Prinses Beatrice van York
Prinses Eugenie van York
30 Mei 1996
Prins Edward, die Graaf van Wessex 10 Maart 1964 19 Junie 1999 Sophie Rhys-Jones Lady Louise Windsor
Burggraaf Severn

Verwysings[wysig | wysig bron]

Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Elizabeth II of the United Kingdom
  1. Britse oorsese gebiede, Britse Kroongebiede, Sowereine Militêre basisse, die Australiese Gemenebes en die Koninkryk van Nieu-Seeland
  2. "Prince Harry pays tribute to the Queen in Jamaica" (in Engels). BBC. 7 Maart 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Oktober 2019. Besoek op 31 Mei 2012.
  3. "Their Royal Highnesses The Prince of Wales and The Duchess of Cornwall to Undertake a Royal Tour of Canada in 2012". Office of the Governor General of Canada. 14 Desember 2011. Besoek op 31 Mei 2012.
  4. "Elizabeth Set To Beat Victoria's Record As Longest Reigning Monarch In British History". The Huffington Post (in Engels). 6 September 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Junie 2018. Besoek op 28 September 2014.
  5. Brandreth, pp. 370–371; Marr, p. 395
  6. Mansey, Kate; Leake, Jonathan; Hellen, Nicholas (19 Januarie 2014). "Queen and Charles start to 'job-share'". The Sunday Times. Besoek op 20 Januarie 2014.AS1-onderhoud: meer as een naam: authors list (link)
    Marr, p. 395
  7. "The Real Crawfie" (in Engels). Kanaal 4. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2010. Besoek op 18 Januarie 2007.
  8. Aangehaal in Brandreth, pp.108–110
  9. Bond, p.8
  10. Brandreth, pp.245–247 en Lacey, pp.150–151
  11. English, Rebecca (2006-04-20). "'The Queen will NEVER consider abdicating'". Daily Mail. Besoek op 15 October 2006.
  12. "By appointment: Norman Hartnell's sample for the Coronation dress" (in Engels). Nga.gov.au. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 April 2020. Besoek op 12 Oktober 2008.
  13. "In Depth: The Golden Jubilee" (in Engels). BBC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Februarie 2009.

Verdere leesstof[wysig | wysig bron]

  • Allison, Ronald; The Queen: 50 Years – A Celebration; HarperCollins UK (1 Oktober 2001) (ISBN 0-00-414078-8)
  • Barker, Brian; When the Queen Was Crowned; Routledge (1986) (ISBN 0-7100-8397-1)
  • Bond, Jennie (2006). Elizabeth: Eighty Glorious Years. Londen: Carlton Publishing Group. (ISBN 1-84442-260-7)
  • Bousfield, Arthur; Toffoli, Gary (2002). Fifty Years the Queen – A Tribute to Elizabeth II on Her Golden Jubilee. Hamilton: Dundurn Press. ISBN 978-1-55002-360-2.
  • Bradford, Sarah; Elizabeth: A Biography of Britain's Queen; Riverhead Trade (1 Mei 1997) (ISBN 1-57322-600-9)
  • Brandreth, Gyles (2004). Philip and Elizabeth: Portrait of a Marriage. London: Century. ISBN 0-7126-6103-4
  • Erickson, Carolly; Lillibet: An Intimate Portrait of Elizabeth II; St. Martin's Press; 1ste ed. (26 Januarie 2004) (ISBN 0-312-28734-8)
  • Field, Leslie; The Jewels of Queen Elizabeth II: Her Personal Collection; Harry N Abrams; Gered. ed. (April 1992) (ISBN 0-8109-2497-8)
  • Flamin, Ronald; Sovereign: Elizabeth II and the Windsor Dynasty; Delacorte (1991) (ASIN B001ALWFN8)
  • Keay, Douglas; Elizabeth II: Portrait of a Monarch; Arrow; Nuwe ed. (1992) (ISBN 0-09-910181-5)
  • Kelley, Kitty; The Royals; New York; Warner Books (1997) (ISBN 0-446-51712-7)
  • Lacey, Robert (2002). Royal: Her Majesty Queen Elizabeth II. Londen: Little, Brown. ISBN 0-7481-0409-7.
  • Lacey, Robert; Monarch: The Life and Reign of Elizabeth II; Free Press (6 Mei 2003) (ISBN 0-7432-3669-6)
  • Lichfield, Patrick (1992). Elizabeth R: A Photographic Celebration of 40 Years. Kanada: Bantam Doubleday Dell. ISBN 0-385-40266-X.
  • Noakes, Michael & Noakes, Vivien; The Daily Life of the Queen: An Artist's Diary; Trafalgar Square (2001) (ISBN 0-09-186982-X)
  • Pimlott, Ben; The Queen: Elizabeth II and the Monarchy; Harper Collins; gered. ed. (2007) (ISBN 0-00-711436-2)
  • Todd, Judy; The Country Life Book of Queen Elizabeth II: A Golden Anniversary Tribute; Country Life Books (1985) (ISBN 0-600-33322-1)
  • Waller, Maureen; Sovereign Ladies: Sex, Sacrifice, and Power. The Six Reigning Queens of England; New York, St. Martin's Press (2006) (ISBN 0-312-33801-5)
  • Jubilee A Celebration of 50 Years of the Reign of Her Majesty Queen Elizabeth II; Cassell & Co (2002) (ASIN B000BMS0UE)

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]